Tuisblad
Meer oor Emoe olie
Getuienis
Produkte
Emoe Boerdery
Media
Skakels
Kontak ons
FAQ
  English
 

INFRASTRUKTUUR NODIG VIR DIE GROOTMAAK VAN EMOES

Kuikens (van pas uitgebroei tot 2/3 maande)

Hulle moet snags binnenshuis bly met ‘n verwarmer – afhangende van die weer – totdat hulle ongeveer 8 weke oud is. Indien die weer warm genoeg is, kan die verwarmer op hierdie stadium weggeneem word, maar hulle behoort steeds binnenshuis gehou word snags. ‘n Vertrek van 3m by 3m sal maklik 25 kuikens kan huisves. Hulle moet ‘n buitekamp hê wat minstens 20 meter lank is. Die vertrekke moet ‘n tipe vloerbedekking hê – die ideaal is rubbermatte wat maklik uitgehaal en daagliks skoongemaak kan word.

Beskerming teen indringers moet oorweeg word – afhangende van waar jou plaas geleë is. Klein emoes kan maklik deur uile, arende en jakkelse gevang word.

Groeikampe

Groeikampe moet so groot as moontlik wees. Sowat 25 voëls moet bv. in ‘n kamp gehou word wat nie kleiner as 40 by 60m is nie. Heinings moet 1.8m hoog wees en van bv. Bonnox-wildomheining- of diamantdraad wees. Dit is nodig om indringers en honde uit te hou en die voëls binne te hou.

Oop kampe moet een of ander soort skadu bied, asook beskerming in langdurige tye van reën.

Voeding

Volstruiskos word tans vir emoes gebruik - totdat die navorsingsprojek wat die vereniging in samewerking met die Universiteit van Pretoria doen, teen die einde van 2005 voltooi is. ‘n Sagte aanvangsgruis word tot op ongeveer 8 weke vir kuikens gebruik, waarna hulle geleidelik oorskakel na ‘n groeiersrantsoen.

‘n Produk wat baie gebruik word vir enige loopvoël, is Stresspak – ‘n Phoenix-produk wat verkrygbaar is by enige apteek wat veeartseny-medisyne aanhou of by jou plaaslike koöperasie. Dit word in hul water gegooi – 1 teelepel op 4,5 liter (1 gelling) water. Dit help om hul te kalmeer voor of ná ‘n stresvolle periode.

Op die ouderdom van 16 maande word hulle oorgeskakel na ‘n broei-rantsoen waarmee hulle aanhou totdat hulle klaar eiers gelê het.

Broeitydperk

Vanaf die ouderdom van 18 maande (beginnende in April of Mei) sal die voëls begin broei. Die wyfie lê elke derde dag ‘n eier (donkergroen). As die eiers in die kamp gelos word in ‘n nes, sal die mannetjie uiteindelik die broeiwerk doen. Gedurende hierdie tyd eet die mannetjie nie. Die mannetjie verlaat nie die nes nie – nie eens om water te drink nie. Dit is natuurlik dat die voëls ophou eet vir ‘n tydperk van omtrent 2 maande. Die inkubasietyd is ongeveer 54 dae en die mannetjie maak die kuikens groot. Die wyfies toon geen belangstelling nie.

Die meeste boere maak gebruik van broeimasjiene wat die eiers kunsmatig uitbroei.

Emoes moet hul eie broeimaats kies. U kan nie net twee of drie voëls in ‘n kamp sit en hoop vir die beste nie. Dit is waarskynlik ‘n goeie idee om die potensiële broeivoëls in ‘n groot kamp te sit. Aan die begin van die broeiseisoen is daar baie gevegte soos die wyfies oor die mannetjies baklei. Wanneer hulle in familiegroepe tot rus kom, kan hulle na aparte broeikampe geskuif word.

Siektes

Ons is nie bewus van enige siektes wat emoes affekteer nie.

Hantering

Die voëls is baie sterk, ten spyte van die feit dat hulle baie kleiner is as volstruise. Hulle moet altyd van agter af gevang en opgetel word. Hulle kan aan hul twee klein vlerke vasgehou word indien nodig. Hulle kan krul en draai en daarom loop u die risiko om van voor of die kant geskop te word. Wanneer hulle nog klein is, kan u hulle neersit deur hulle op hul sy neer te lê sodat hulle self op hul voete kan kom.

Algemene Inligting

  • Emoes is in die algemeen mak en nuuskierige diere.
  • Emoe-kuikens broei uit eiers wat wat tussen 400-900 gram weeg, met die gemiddeld naby 550 gram of 1.25 pond.
  • Wanneer hul uitbroei staan die kuikens bykans 10 duim hoog en het geel-wit en swart strepe wat as kamoeflering in die natuur dien.
  • Teen drie maande is die kuikens 24 duim groot en kry dan ‘n swart kop en swart lyf soos hul vere groei.
  • Binne 6 maande is die kuiken 4½ voet groot en het die swart, brons en bruin vere van die volwassene. Hulle begin ook swaarder word.
  • Die volwasse emoes het sagte donsagtige vere – geen are loop deur die middel van elke dubbel-geveerde slagpen nie. Die kop, nek en bek vertoon soms helder blou.
  • Die voëls pas maklik aan in verskillende klimate – van die gramadoelas van Australië waar 120-Fahrenheit algemeen is, tot die -60-Fahrenheit van noordelike Minnesota se winter. Die is ‘n aanvaarde toleransie van oor die 180 grade.
  • Baie emoe-wyfies kan eiers lê voordat hulle 2 jaar oud is, waar die mannetjies seksuele volwassenheid bereik tussen 3 en 4 jarige ouderdom.
  • Volwasse emoes kan steeds broei wanneer hul lank verby die ouderdom van 35 jaar is. Emoes lê normaalweg tussen 20 en 30 eiers per seisoen.
  • Tydens die hofmaakproses maak die emoe-wyfie ‘n trommel-geluid in haar lugsak. Die mannetjie maak ‘n gromgeluid soos ‘n wildevark.
  • Kommersiële inkubasie duur 49 tot 52 dae en die persentasie eiers wat uitbroei is gewoonlik tussen 70 en 80% in normale higiëne en versorgingsituasies.
  • ‘n Volwasse emoe lewer 4 tot 5 liter rou olie. Hulle voorsien 20 tot 30 pond ysterryke rooivleis wat laag is in vet en cholesterol.
Terug na Emoe boerdery  

© 2010 Emuphoria
Webwerf ontwerp deur
Polar Design Solutions