MEDIA
Die wonder in emoes se vet
Die emoe lyk dalk so effens soos ‘n kroes hoender gekruis met ‘n volstruis maar onder die ligbruin-en-wit vere skuil daar in sy vet ‘n mediese en kosmetiese wonderwerk.
Tot ongeveer twee weke gelede het ek gedink dié nievlieënde voëls wei net op die grasvlaktes van Australië, dat hul enigste nut as toeristelokmiddel in die Outback is en dat hul drie-toon staan in die skadu van die volstruis, sy groter pluimdraende ‘neef’.
Toe ontmoet ek vir Susan Engelbrecht op ‘n kerkbasaar en vind uit dat die emoe ook op die Noordwes-vlaktes wei en nou wel nie die verestofferbedryf aan die gang hou nie, maar dalk binnekort ‘n mediese en kosmetiese revolusie gaan veroorsaak.
Susan boer met emoes op die Aisling-plaas in die Potchefstroom-omgewing en kan nie uitgepraat raak oor die wonder van emoe-olie nie. Die suiwer olie is anti-inflammatories, hoog in anti-oksidante en bevat Omega 3, 6, 7 en 9 vetsure. Volgens Susan is die samestelling van die Omega-vetsure in perfekte balans. Daar is al gepoog om dieselfde samestelling in ‘n laboratorium te skep, maar dit blyk onmoontlik.
Vanweë die komponente van die olie versnel dit die gesondmaakproses van bedsere, snye, operasiewonde, brandwonde en verminder daarby ook die vorming van littekens wanneer dit gou genoeg aangewend word. Die olie bevorder ook jou bloedsomloop en is daarom ‘n wondermiddel vir diabete, help met spatare en werk soos ‘n bekende room op die mark vir atlete met seer spiere en help ook met hul opwarming.
Susan vertel van die atleet Paula Ratcliffe wat twee weke voor die Londense marathon dit oorweeg het om te onttrek weens ‘n erge besering. Sy hoor toe by die Australiese atleet Cathy Freeman van die wonder van emoe-olie – en twee weke later is sy sodanig herstel dat sy deelneem aan die marathon . . . en wen.
Maar hoe is die wondere van emoe-olie ontdek?
Navorsers het jare gelede ‘n studie gedoen onder verskillende bevolkingsgroepe en opgemerk dat daar onder die Aborigenes van Australië geen artritis en velkanker voorkom nie. Nadere ondersoek het vasgestel dat dié inheemse bevolkingsgroep emoe-olie al eeue lank vir die behandeling van brandwonde, wonde, artritis- en spierpyne en ook as velbevogtiger gebruik.
Volgens Susan het sy al vele getuienisse ontvang van mense wat beswaarlik kon loop weens atritis, toe die olie kapsules en artritis- en spiersmeer gebruik het en vandag sonder die verskriklike pyn ‘n normale lewe kan leef.
Ons sal eers nadat die olie deur SABS goedgekeur is, die olie wat ons hier vervaardig verkoop. Huidiglik koop ek dit by Peter Duncan, hy voer dit in vanaf Amerika en Australia. Dit voldoen aan hulle FDA en FQIS standaarde.
Sy koop die suiwer emoe-olie aan van ‘n olie-raffinadery by Lanseria waar die vet van haar emoes ook verwerk word. Vandaar gaan dit na die farmaseutiese maatskappy Brunel wat die produkte vervaardig volgens formules wat prof. Aubrey Parsons van Wits saamgestel het.
Sy waarsku mense om seker te maak dat hulle die suiwer produk gebruik. Wanneer emoes byvoorbeeld nie die regte kos eet nie, is die olie wat verwerk word uit hul vet van ‘n laer graad en werk dit nie so doeltreffend nie – en kan selfs ‘n negatiewe gevolg hê. ‘n Emoe-boer het ook al ‘n olie verkoop met ‘n klein emoe-olie-inhoud wat vermeng is met olyfolie en ander byvoegsels – en die resultate was alles behalwe wonderlik.
In Australië word die olie gekeur deur ‘n raad en in grade opgedeel. Graad 1 is drinkbaar en pille word daarvan vervaardig. Graad 2 word gebruik vir kosmetiese produkte en medisinale rome en van die derde graad word ‘n diere-olie gemaak vir kwale onder byvoorbeeld katte, honde en perde.
Sasol is deur sy Chemcity-afdeling nou betrokke by die emoe-olieprodukte wat in Suid-Afrika ontwikkel word en wil ‘n standaard vir emoe-olie vasstel wat deur die SABS gekontroleer kan word.
Chemcity, ‘n tegniese ondersteuningsraad, is nou juis besig om ‘n hele kosmetiese produkreeks vir Susan te ontwikkel. Benewens die bestaande dag- en nagrome en velherstelroom is ‘n skropmiddel, verfrisser, ‘n lipsalf, akneeroom en ekseemroom in die pyplyn.
Die uitsonderlike penetrasievermoë van emoe-olie is vanweë die feit dat dit anders as ander olies geen fosfor bevat nie. Vanweë dié penetrasie is die werking juis so goed. Die Noordwes-Universiteit gaan nou dié penetrasievermoë ondersoek in ‘n vergelykende studie.
Die gebruikers van emoe-olie noem dit ‘n wonder-olie. Met winterhande wat vir die eerste keer in weke sag en bevogtig voel vanweë emoe-velherstelroom haal ek ook my hoed af vir dié Australiese voël.
Mercia van der Westhuizen
|